Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Woensdag 05 Desember 2018

Skole Ondersteuningsentrum

Die toekoms van christelike Afrikaanse onderwys


Afrikaanse openbare skole bied onderwys van wêreldgehalte, ten spyte van al meer inmenging en al minder befondsing vanaf die staat. Die waarde van roepingsgedrewe onderwysers, 'n gesonde leerkultuur en moedertaalonderrig is duidelik sigbaar in die goeie akademiese resultate van Afrikaanse skole.

Volgens 'n verslag deur die Skoleondersteuning-sentrum (SOS) het 86% van Afrikaanse skole se matrieks die 2017-matriekeksamen geslaag – 11% meer as die nasionale slaagsyfer. Verder behaal Afrikaanse skole bykans drie keer meer onderskeidings as hul Engelse eweknieë in belangrike vakke soos Wiskunde.

Christelike Afrikaanse onderwys ervaar egter toenemende politieke druk en onverdraag-saamheid teenoor godsdiens in skole.In Julie 2017 het die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) die hof gevra het om die beoefening van 71 godsdienspraktyke in skole ongrondwetlik te verklaar. Ogod se aansoek is grotendeels, met koste, van die hand gewys, maar sedertdien is skole lugtig om hul Christelike karakter uit te leef. Die staat sal waarskynlik swaar steun op hierdie uitspraak indien die Skolewet hersien word om provinsiale departemente die mag te gee oor skole se taal -en toelatingsbeleide.

Voorgestelde wysigings aan die Skolewet kan daartoe lei dat skole se taal -en toelatingsbeleid voortaan deur provinsiale onderwysdepartemente goedgekeur moet word. Dit beteken dat Afrikaanse openbare skole nadelig geraak kan word, sou die wet hersien word. Beplande wysigings aan toelatingsregulasies in Gauteng kan boonop beteken dat Afrikaanse skole verplig sal wees om leerders in Engels te onderrig, indien hierdie leerlinge naby aan die skool woon. Tydens 'n openbare vergadering in Augustus 2018 het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys gesê; “Ek waarsku julle, as julle dink Montana is net vir Afrikaners en nie vir ons almal nie, gaan julle die prys hiervoor betaal”.

Verskeie Afrikaanse skole landswyd is reeds gedwing om Engelse leerders in te neem. Die realiteit is ongelukkig dat parallelmedium skole dikwels na Engels enkelmedium oorskakel, omdat hulle nie genoeg finansiële ondersteuning en hulpbronne vanaf die staat ontvang om hierdie model vol te hou nie. Die staat wil dus meer beheer hê oor skole, maar bied minder ondersteuning.

Die goeie nuus is egter dat dit nog lank nie klaarpraat is vir Afrikaanse onderwys nie. Verskeie instansies, soos die SOS, beywer hom vir die voortbestaan van gehalte christelike Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika. Die SOS ondersteun Afrikaanse onderwysers en skole met onderwyshulpmiddels en voortgesette opleiding. Ons help skole om terug te baklei teen verdoemende beleide wat christelike Afrikaanse onderwys bedreig, maar terselfdertyd beywer die SOS ons vir ontwikkeling van bekostigbare, onafhanklike skole waar gehalte Afrikaanse onderrig volhoubaar kan voortbestaan.

Die toekoms van gehalte Afrikaanse, christelike onderwys is dus positief, ten spyte van interne en eksterne bedreigings. Dit is egter nodig dat die Afrikaanse gemeenskap self hand aan die ploeg te slaan ten einde moedertaal onderrig met 'n christelike basis volhoubaar te verseker.


012 612 0234
admin@skole.co.za
Von Willichlaan 284,
Die Hoewes, Centurion
www.skole.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking