Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Woensdag 19 Junie 2019

Onderwys in SA onder beleg



 Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie  daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee  van aardskuddende belang is, nl., eerstens, die beoogde invoer van Comprehensive Sexual Education (CSE) in SA staatskole vanaf volgende jaar en, tweedens, implementering van die aanlynregistrasiestelsel in Gauteng vir alle nuwe skolierapplikante.

Die aanlynregistrasiestelsel bring mee dat o.a. nuwe Afrikaanssprekende skolierapplikante nie meer kan gaan na die Afrikaanse skool van hul voorkeur nie, maar moet inskryf by die skool vir hulle aangewys. Terselfdertyd kan Afrikaanse skole verplig word om watter taalsprekende skolier ookal na hulle verwys word, in te neem, of hulle nou plek het of nie.

 Hierdie beleid is die produk van die veldtog wat uitgesproke anti-Afrikaanse aktivis en LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi al vir jare teen Afrikaanse skole voer. Dit kan enorme implikasies hê vir Afrikaanse skole landswyd, sou die stelsel so uitgebrei word. Daar is 23 719 staatskole in SA, waarvan 1 279 enkelmedium Afrikaans is oftewel 5%, maar steeds moet in Gauteng van hulle gedwing word om andertalige aansoeke te akkommodeer

 Aan die ander kant kan diaboliese CSE, soos dit uiteengesit is in die voorbladartikel van hierdie uitgawe, eenvoudig verwoestend wees op die psige van jong kinders. Woorde kan kwalik die vernietigende gevolge beskryf van voortydige blootstelling van onontwikkelde kinders aan seksuele wanpraktyke deur persone met bose agendas.

Albei hierdie verwikkelinge het dus implikasies van waarskynlik die doodsklok vir Christelike Afrikaanse onderwys en derhalwe poog Ditsem Nuus om maksimale teenaksie te mobiliseer in sowel die gedrukte uitgawe van die koerant as op sy digitale platforms. In hierdie uitgawe val die klem op die stop van CSE, met in hierdie rubriek drie onderwysinstansies wat hiertoe met spesifieke insette hul steun toesê.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking