Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Woensdag 05 Desember 2018

Die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO)

Die Bybel as grondslag

VCHO is ʼn onafhanklike, vrye Vereniging, gebonde aan die beginsels van die Heilige Skrif alleen. VCHO aanvaar as grondslag die Bybel, geïnspireerd en onfeilbaar, ooreenkomstig die gereformeerde belydenis-interpretasie.

VCHO huldig die oortuiging dat die hoogste openbaring (die besondere) oor God-Drieënig en sy skeppingswerk in die Woord gevind word. Betroubare, ware kennis i.v.m. God (deur geloof in Hom) en van sy skeppingswerk (deur bestudering daarvan) is hierby inbegrepe. Geloof en ons elkedagse werklikheid, staan in direkte verband met/verhouding tot mekaar.

God's werke in die skepping (algemene openbaring) moet deur die onderwys en wetenskap na vore gebring word, onder die Lig en Waarheid van die Woord. Insigself is die skepping dus ook ʼn openbaring, waarvan Jesus Christus as Middelaar aangedui word (Kol. 1:16).

Onderwys en wetenskap kan gevolglik nie van geloof geskei word, asof daar geen verband is nie. Wanneer op Christelike onderwys en wetenskap aangedring word, is dit uit erkenning dat Jesus Christus Heer van ons lewens en ook van die skepping is. Word hierdie Waarheid ontken / genegeer, word onderwys en wetenskap buite die sfeer van die geloof gestel, asof die werklikheid self outonoom sou wees, wat op ʼn ontkenning (verloëning) van voormelde waarheid neerkom. Waar kennis/wetenskap dusdanig verhef word, word sekulêre (afvallige) geestesstrominge bepalend vir die wyse waarop die werklikheid beoordeel word. Die post-modernisme, wat elkeen sy eie waarheid veroorloof, dien as voorbeeld. Praktiese gevolge is dat afvallige wetenskap die geloof begin verplaas (soos in sekere kerke reeds gebeur), wat die samelewing weer tot sekularisering laat terugsak.

Konsekwent Christelike onderwys en wetenskap erken en eerbiedig die goddelike  'outeurskap', sover dit die skeppingswerk aangaan. Die Christen-onderwyser en -wetenskaplike verstaan hiervolgens dat deur kennis-inkleding (b.w.v. kurrikulering en vakinhoude) God verheerlik moet word (Rom. 11:36).
VCHO wil deur gehoorsame roepingsvervulling -

● Christelik(e)-kultuureie onderwys en - wetenskap op elke denkbare wyse bevorder;
● ouers en onderwysers van die noodsaak aan Christelike onderwys oortuig;
● verseker dat jongmense en studente Christelike onderwys en wetenskap ondergaan;
● skole/universiteite oor die belang van Christelike onderwys/wetenskap voorlig;
● meewerk dat daar ook vir die Christen-Afrikaner ʼn toekoms in hierdie land mag wees;
● en instrumenteel wees in die daarstelling van ʼn Christelike samelewing.

VCHO-missie:
Om deur die bevordering van Christelike onderwys, beginnende by ons eie volk, persone en instellings te oorreed om op elke lewensterrein tot eer van God te lewe en te werk (Hand. 1:8).

 
Van Schalkwykstraat 21
Universitas | Bloemfontein
051 525 2341
076 817 6269
hugo@vcho.co.za
www.vcho.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking