Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Woensdag 05 Desember 2018

Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word alte deeglik deur vriend en vyand besef dat die jeug die leiers en menslik-gesproke die bepalers van die toekoms is en daarom moet welke beïnvloeding ook al op skole-en tersiêre vlak losgelaat word.

Tans is onderwys in die land 'n morele slagveld, met o.a. 'n Godlose regering wat dit administreer, getalsinstroming wat Christelike Afrikaanse kultuur verdring, wetgewing wat indruis teen Bybelse beginsels soos tugtiging, die skeppingsverhaal, eie identiteit, kuisheid, ens. en waarheidsgetroue geskiedenis. 

Derhalwe is dit vir diegene vir wie die Afrikaner as volk belangrik is, noodsaaklik dat sy jeug binne die riglyne van Christelike Afrikaanse onderwys onderrig en opgevoed word. Dit is om hierdie rede dat Ditsem Nuus in hierdie uitgawe 'n spesiale fokus doen onder die opskrif Christelike Afrikaanse onderwys in die weegskaal.

Daar word gevoel dat hierdie kwessie aktueel onder die loep geneem moet word, dat standpunte daaroor gestel word en dat openbare debat daaroor gevoer word, om sodoende by te dra tot sinvolle gevolgtrekkings en aksies deur alle betrokkenes. Gevolglik is,  om af te skop, 'n aantal sentrale rolspelers op die gebied van Christelike Afrikaanse onderwys in die land versoek om insette te lewer, welke insette wat ontvang is, op bl.2 van hierdie uitgawe gepubliseer word.

Wat dit betref, word lesers versoek om aandagtig die insette van die BCVO, die Skole Ondersteuningsentrum, die VCHO en die APA te lees en dan op die spesiale blog op die Internet waar hierdie insette herhaal word, hul kommentaar te lewer. Op hierdie wyse kan reg laat geskied word aan die onderwerp.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking