Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement
wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan
word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi,
bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te
draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar,
geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste
oor waar kinders ingeskryf mag word nie.
Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste
aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die
leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat
aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud
aanvaar.
Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie,
terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die
taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie
meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.
Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter
sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien
dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te
akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet
word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”
Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir
tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend
tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om
genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en
nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse
skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.
Weens 'n agterstand in instandhouding moet
skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en
verslegtende skoolinfrastruktuur.
Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark
sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die
gesig staar.
Die Gauteng onderwysdepartement begroot
jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar
die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn
massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur
die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000
leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring,
waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.
Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het
gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en
dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die
opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019
om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en
Gr. 8 aansoeke plaasgevind.
Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal
verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat
dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is
moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.
In nasionale verband kan volgens die
Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge
minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80%
van graad 4’s as funksioneel ongeletterd.
Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole
nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat
dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.
Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker
vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan
van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige
beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade
aangerig word.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking