Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Woensdag 19 Junie 2019

Onderwys in SA onder beleg



 Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie  daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee  van aardskuddende belang is, nl., eerstens, die beoogde invoer van Comprehensive Sexual Education (CSE) in SA staatskole vanaf volgende jaar en, tweedens, implementering van die aanlynregistrasiestelsel in Gauteng vir alle nuwe skolierapplikante.

Die aanlynregistrasiestelsel bring mee dat o.a. nuwe Afrikaanssprekende skolierapplikante nie meer kan gaan na die Afrikaanse skool van hul voorkeur nie, maar moet inskryf by die skool vir hulle aangewys. Terselfdertyd kan Afrikaanse skole verplig word om watter taalsprekende skolier ookal na hulle verwys word, in te neem, of hulle nou plek het of nie.

 Hierdie beleid is die produk van die veldtog wat uitgesproke anti-Afrikaanse aktivis en LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi al vir jare teen Afrikaanse skole voer. Dit kan enorme implikasies hê vir Afrikaanse skole landswyd, sou die stelsel so uitgebrei word. Daar is 23 719 staatskole in SA, waarvan 1 279 enkelmedium Afrikaans is oftewel 5%, maar steeds moet in Gauteng van hulle gedwing word om andertalige aansoeke te akkommodeer

 Aan die ander kant kan diaboliese CSE, soos dit uiteengesit is in die voorbladartikel van hierdie uitgawe, eenvoudig verwoestend wees op die psige van jong kinders. Woorde kan kwalik die vernietigende gevolge beskryf van voortydige blootstelling van onontwikkelde kinders aan seksuele wanpraktyke deur persone met bose agendas.

Albei hierdie verwikkelinge het dus implikasies van waarskynlik die doodsklok vir Christelike Afrikaanse onderwys en derhalwe poog Ditsem Nuus om maksimale teenaksie te mobiliseer in sowel die gedrukte uitgawe van die koerant as op sy digitale platforms. In hierdie uitgawe val die klem op die stop van CSE, met in hierdie rubriek drie onderwysinstansies wat hiertoe met spesifieke insette hul steun toesê.

Dinsdag 18 Junie 2019

Ek is ’n rassis


Ek het nie self so besluit nie, inteendeel, dit is nie eers iets wat ek myself sou noem nie. Ek vereenselwig nie met hierdie term nie. Dit is aan my gegee en ek is daarmee gedoop en daarvan beskuldig. En nou word ek daarvoor gehaat.
 

Wat ek wel is, is ’n Suid-Afrikaner en daarom behoort Suid-Afrika aan my.

Deur dit te sê het ek jou nie van jou reg om ’n Suid-Afrikaner te wees ontneem nie. Ek het ook nie daardeur gesê dat Suid-Afrika nie aan jou behoort nie.

Ek praat Afrikaans. Dit is een van Suid-Afrika se elf amptelike tale. Dit is my reg om dit te praat. Dit is ook my reg om aan te dring daarop dat my kind ’n opvoeding in hierdie taal ontvang.

Deur dit te sê maak ek nie jou taal af of ag dit gering nie. Ek het nie aangevoer dat die tien ander amptelike tale nie gepraat mag word of dat onderrig nie daarin mag geskied nie. Ek het ook nie geïnsinueer dat Afrikaans slegs beperk is tot wit mense nie. Ek het nie een keer gesê dat ’n bruin of swart kind nie in Afrikaans onderrig mag word of in ’n Afrikaanse skool aanvaar mag word nie.
Demografies word Afrikaans deur meer bruin mense as wit mense gepraat. Ek het nie een keer beswaar daarteen aangeteken of bepleit dat ek ’n wit Afrikaanse skool wil hê of dat dit slegs ’n taal vir wit mense is nie.

So waarom dan die agressie?

“Daar word van swart kinders verwag om hul matriekeksamens in Engels te skryf tenspyte daarvan dat dit hulle 3e of 4de taal is, Afrikaanse leerders skryf hulle vraestelle in hul moedertaal, waar is die gelykheid daarin?” -Twittergebruiker.

Daar is geen gelykheid daarin nie. Daar kan nie wees nie. Maar die oplossing is nie om almal te forseer om in Engels te leer nie. Dit is nie my taal nie en ek wil nie.

Hieroor is ek “bevoorreg” (privileged) en “geregtig” (entitled) genoem. Nee. Wanneer ek aandring op iets wat my toekom oefen ek my reg uit. Dit is nie ’n voorreg nie. Ek mag. En jy mag ook.

Volgens onderwyswetgewing (en ondersteun deur Die Konstitusie) mag ’n leerder onderrig ontvang en leer in die taal van sy/haar keuse. Meeste Afrikaanse ouers verkies hul moedertaal as taal van onderrig. Die regering moet dus in hierdie behoefte van my voorsien.

Deur dit te sê ontneem ek nie die Zulu-, Xhosa-, Sepedi-, Setswana-, Sesotho-, Tsonga-, Swati-, Venda- of Ndebele-kind van sy behoefte om in sy moedertaal onderrig te word nie. Inteendeel, dit is met die grootste oortuiging en entoesiasme waarmee ek hierdie tale wil aanmoedig om op akademiese vlak uit te brei en te ontwikkel. As hierdie ouers egter kies om hul kinders in Engels te laat onderrig, staan dit hulle vry. Dit word so vervat in Die Grondwet. Maar in hulle vryheid moet hulle dan van Engelse skole voorsien word sonder dat dit skole wat in ander moerdertale onderrig, sal inperk.

Deur dit te sê volg ek nie noodwendig ’n ideologie van segregasie nie. Ek het reeds vroeër gemeen dat taal nie noodwendig aan ras gekoppel is nie en dat veral Afrikaans nie aan hierdie stigma onderhewig is nie.

Ek glo wel dat in hierdie diverse land, kultuur nouliks verbind kan word met verskillende tale en dat kultuur in baie gevalle geïntegreer is binne ’n bepaalde ras en taal. Dink maar aan die Ndebele. Dit is die naam van die ras, taal en ook hul kleurvolle kultuur. Dit is eie aan hulle.

In sekere Afrikaanse skole volg ons sekere kulture. Wanneer jy, uit jou vrye keuse, besluit om jou onderrig in hierdie taal te ontvang, kies jy ook om jouself tot ’n mate by hierdie kultuur te skaar.
Kulture self is divers en bestaan gewoonlik uit ’n paar “maniere van doen” en ’n aantal tradisies wat deur die jare opgebou is, om nie eers van die musiek en literatuur te praat nie. Ek mag kies om my kind in ’n kultuur eie aan homself te skool. Ek mag selfs kies om in my doen en late net te assosieer met mense van my kultuur. Ek mag my kultuur uitleef. Die enigste voorwaarde hieraan is dat ek dit nie ten koste van ander kulture moet doen nie en dat ek ander kulture en die bestaansreg daarvan moet respekteer.

Hoekom kan enkelmedium skole nie ook die behoud van verskeie kulture raak nie? Dit kan ’n beskermde omgewing wees waar ou en nuwe tradisies beoefen kan word en waar identiteit behoue kan bly. Dit is ook die plek waar aanvaarding vir ander tradisies en kulture die beste aangeleer kan word.

Dít is hoe jy ’n reënboognasie suksesvol laat funksioneer.

Tog kan ek skaars so ‘n voorstel ter tafel stel of dit word met ’n groet van haat bejeen. Die onvermoë om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar is dalk eerder die ondergang van alle betrokke partye as wat die onvermoë om op ’n beskaafde manier rede te kan voer, is. Ja, dit is die onvermoë om te besef dat ek anders mag dink en voel en doen; daardie inherente strewe na eendersheid en die onderdrukking van enige iets wat uniek of vreemd is, wat afbreek en in puin agterlaat eerder as om te bou. Dit is daardie geloof dat verskille verkeerd is. Dit is wat enige moontlike vrede vedryf.

Ek is nie ’n rassis nie. Hierdie term is eerder ’n refleksie van die een wat aan my hierdie titel gegee het. Dit plaas klem op sy eie onvermoë om te kan debateer en te kan agrumenteer op ’n waardige wyse. In sy beperkte vermoë skryf hy alles wat vreemd is af as bedreiging en klassifiseer hy dit onder hierdie dekmantel. Hy is so gefokus op wat ek in my taal en kultuur vermag dat hy sy eie vergeet en afskeep.

Dit is hartseer … dat mense in hierdie land nie kan saamwerk en aanvaar nie. Dat mense nie kan besef dat groei afsonderlik en gesamentlik tot almal se voordeel kan (en moet) plaasvind nie; dat elkeen ’n plek het en dat jy eerder moet veg vir jou regte as wat jy moet veg teen die regte van ander.

GESKRYF DEUR

Johanell Pelser

Diaboliese seksprogram vir laerskoolkinders



·     Suid-Afrikaanse skole onder beheer van die staat is geskeduleer om vanaf 2020 ‘n sg. seksopvoedingsprogram genaamd Comprehensive Sexual Education (CSE) van die Verenigde Nasies (VN) te implementeer in die vak Lewensoriëntering vir Grade 4 tot 12. CSE is daarop gemik om kinders van Graad 4 en selfs nog van so jonk as 4 jaar op diaboliese wyse seksbewus en seksgereed te maak – eintlik is CSE van so aard dat dit te aaklig is om in beskaafde geselskap in woorde te stel, maar Ditsem Nuus beskou dit as só bedreiging vir kinders dat dit in hierdie artikel as waarskuwing ronduit gestel word. 
 
CSE spruit oorspronklik uit navorsing oor seks wat die Amerikaansebioloog en entomoloog dr. Alfred Kinsey in 1947 aan die Indiana Universiteit in die VSA gedoen het en waarin hy o.m. kinders en pedofiele saam as proefkonyne gebruik het. Die resultate van sy navorsing is later gebruik deur VN-instansies soos UNAIDS, UNESCO en UNICEF om die program getiteld CSE te ontwikkel vir sg. seksuele opvoeding met die oog op “jeugweerbaarheid”.

Word egter gelet op die inhoud van CSE, dan is dit duidelik dat dit in wese duiwels is en reëlreg indruis teen Bybelse beginsels. So bv. bevorder dit masturbasie vir klein kinders; moedig hulle aan om mekaar seksueel te betas; sê homoseksualisme is natuurlik; keur transgeslag goed in die sin dat ‘n kind een dag soos ‘n seun mag aantrek en die volgende dag soos ‘n dogter; propageer dit seksuele “regte” vir kinders sonder ouerlike toestemming; moedig dit seksuele eksperimentering aan; illustreer dit die toepassing van kondome; sê selfs seks met diere is aanvaarbaar; keur aborsies goed; en nog bose banaliteite.

Verskillende VN-organisasies bevorder die CSE-program by lande en gemeenskappe in die wêreld en moedig insluiting daarvan sterk aan by nasionale leerplanne. Dit alles word gedoen onder die dekmantel dat kinders proaktief “ingelig en opgevoed” moet word om hulself sg. te kan handhaaf en gevare soos HIV-Vigs te vermy.

In die proses word gepoog om selfs direk en indirek regerings- en owerheidsinstansies te dwing om CSE te implementeer, bv. Nigerië met sy bevolking van  201 miljoen is  gedreig dat as CSE nie in die amptelike kurrikula aanvaar word nie, buitelandse beleggings in die land die land ingekort sal word. Desnieteenstaande het talle lande deur die ware aard van CSE gesien en daarteen in opstand gekom, selfs Naura as die VN-lidland met die kleinste bevolking (11 200) het botweg geweier dat CSE by hulle toegelaat word .

Sover bekend, is Suid-Afrika egter die enigste land in Afrika wat CSE amptelik in sy skoolleerplanne insluit . Op 12 Mei 2019 het die Sunday Times berig dat die Dept. van Basiese Onderwys  onder Minister Angie Motshekga die nodige reëlings getref het vir die implimentering van CSE in die leerplan vir Lewensoriëntering vanaf begin 2020.

Vir doeleindes hiervan het die Dept. van Basiese Onderwys die dienste gekontrakteer van sowat 100 kundiges en skrywers om die leerplanne vir Lewensoriëntering oor te doen. Een van hierdie kontrakteurs is die bekende of dan berugte seksterapeut dr. Marlene Wasserman, ook bekend as Dr. Eve, wat soos volg aangehaal word: “Masturbation is normalised and it is threaded through the curriculum from grade 4. It begins with self pride, self-image, body diversity, genital differences, genital changes and touching oneself for pleasure.” 

Ten einde te help om ouers, onderwysers, personeel en ander belanghebbendes te waarsku teen die loslating van die diaboliese plaag van CSE op onskuldige klein kindertjies nog in hul vormingsjare en teen besoedeling van groter kinders, het Ditsem Nuus, benewens hierdie artikel, ook ‘n aantal nasionale instansies gemoeid met onderwys in SA genader om promosie-insette te maak in hierdie uitgawe. Slegs die drie op bl. 2 het hulle enigsins verwerdig om teen die nominale koste van R890 ‘n inset ter ondersteuning te maak.

Aan die positiewe kant is daar in die res van die wêreld mense, regerings en lande wat opstaan teen CSE, dit verdoem vir wat dit is en wat dit blokkeer sover moontlik. In hierdie verband is daar o.m. die uitstekende film getiteld The War on Children, beskikbaar by www.comprehensivesexualityeducation.org, in 35 min sowel as 10 min weergawes.
Dit word ten sterkste aangeraai dat elkeen wat CSE verban wil sien, na hierdie film kyk en dit ook so wyd as moontlik versprei.


Die Bybel konstateer: “En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die Here.” (Lev. 18:21). Mag daar gebid en gewerk word dat die verskriklike plaag van CSE die kinders van SA, insluitende spesifiek ook Afrikaner-kinders, gespaar bly en mag elkeen met ‘n verantwoordelikheid in hierdie opsig daardie verantwoordelikheid opneem en doeltreffend nakom.