Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word alte deeglik deur vriend en vyand besef dat die jeug die leiers en menslik-gesproke die bepalers van die toekoms is en daarom moet welke beïnvloeding ook al op skole-en tersiêre vlak losgelaat word.
Tans is onderwys in die land 'n morele slagveld, met o.a. 'n Godlose regering wat dit administreer, getalsinstroming wat Christelike Afrikaanse kultuur verdring, wetgewing wat indruis teen Bybelse beginsels soos tugtiging, die skeppingsverhaal, eie identiteit, kuisheid, ens. en waarheidsgetroue geskiedenis.
Derhalwe is dit vir diegene vir wie die Afrikaner as volk belangrik is, noodsaaklik dat sy jeug binne die riglyne van Christelike Afrikaanse onderwys onderrig en opgevoed word. Dit is om hierdie rede dat Ditsem Nuus in hierdie uitgawe 'n spesiale fokus doen onder die opskrif Christelike Afrikaanse onderwys in die weegskaal.
Daar word gevoel dat hierdie kwessie aktueel onder die loep geneem moet word, dat standpunte daaroor gestel word en dat openbare debat daaroor gevoer word, om sodoende by te dra tot sinvolle gevolgtrekkings en aksies deur alle betrokkenes. Gevolglik is, om af te skop, 'n aantal sentrale rolspelers op die gebied van Christelike Afrikaanse onderwys in die land versoek om insette te lewer, welke insette wat ontvang is, op bl.2 van hierdie uitgawe gepubliseer word.
Wat dit betref, word lesers versoek om aandagtig die insette van die BCVO, die Skole Ondersteuningsentrum, die VCHO en die APA te lees en dan op die spesiale blog op die Internet waar hierdie insette herhaal word, hul kommentaar te lewer. Op hierdie wyse kan reg laat geskied word aan die onderwerp.
Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word alte deeglik deur vriend en vyand besef dat die jeug die leiers en menslik-gesproke die bepalers van die toekoms is en daarom moet welke beïnvloeding ook al op skole-en tersiêre vlak losgelaat word.
Onderwys in die branding
Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...
Woensdag 05 Desember 2018
Afrikaanse Protestantse Akademie (APA)
Sieners in plaas van kykers
By die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) gaan dit vir ons om baie meer as om studente af te rig vir 'n beroep. Ons wil, om 'n frase van prof. Bennie van der Walt te gebruik, sieners in plaas van kykers, die wêreld instuur. As sommige groepe vra wanneer Siener se man gaan opdaag wat die land gaan uitlei uit sy omstandighede, het ons 'n antwoord: Ons het nie 'n Siener nie, maar ons werk wel daaraan om baie sieners die samelewing in te stuur – sieners wat nie bloot kyk na wat voorhande is nie, maar kan sien wat nodig is vir egte Christelike reformasie.
By die APA kan ons nie alles doen nie; daarom fokus ons net op dit wat volgens ons vermoë moontlik is. Ons streef tans daarna om veral dominees, onderwysers en sielkundiges te vorm wat leiding kan gee in die samelewing.
Om sulke sieners te help vorm, is daar 'n basiese benadering wat ons volg. Ons strewe na vierdimensionele (4D) visie vanuit ons tradisie. Wat word hiermee bedoel? In die eerste plek kan gestel word dat ons moet besef dat ons onsself nog in die eerste dimensie bevind wanneer ons bepaalde leiers en bewegings kies en idealiseer op grond van hoorsê of dat ons daarin grootgeword het (1D). Soos wat ons hierin groei en die ligte vir ons aangaan, verneem en leer ons meer eerstehands by bepaalde leiers en bewegings self en beweeg verder weg van hoorsê. Soos die skoolvosse sê: Ons gaan oor vanaf sekondêre bronne na die primêre bronne (2D).
Die primêre bronne is egter dikwels nog steeds net primêre bronne uit die nouer kring. Daar is daarom ook 'n derde dimensie waarna ons behoort te strewe as ons werklik outentieke visie wil ontwikkel, iets waaroor ons nog te min praat: die leiers se bronne. Die rede is dat kreatiwiteit vinnig vasval wanneer ons bloot 'n bepaalde persoon of beweging of tydvak se metodes idealiseer in plaas daarvan om in die wyere tradisie te gaan swem vanwaar leiers self ook inspirasie gevind het. Hierdie weg tot by die derde dimensie bring ons by menige bronne uit wat dikwels die klassieke werke genoem word (3D).
Dit is eintlik net wanneer jy hier begin delf dat jy werklik deel raak van wat Mortimer Adler “die groot gesprek” genoem het. In gesprek en strydgesprek met ander ontwikkel daar dan bepaalde visie, 4D-visie vanuit ons tradisie, om die lyne en die skemas van die eeue te onderskei.
Met die Bybel altyd in die regterhand, is dit die APA se resep vir sieners in plaas van kykers.
Posbus 11488
HATFIELD, 0028
Farendenstraat 430
CLYDESDALE
Pretoria, 0002
012 344 3960
info@apa.ac.za
HATFIELD, 0028
Farendenstraat 430
CLYDESDALE
Pretoria, 0002
012 344 3960
info@apa.ac.za
www.apa.ac.za
Die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO)
Die Bybel as grondslag
VCHO is ʼn onafhanklike, vrye Vereniging, gebonde aan die beginsels van die Heilige Skrif alleen. VCHO aanvaar as grondslag die Bybel, geïnspireerd en onfeilbaar, ooreenkomstig die gereformeerde belydenis-interpretasie.VCHO huldig die oortuiging dat die hoogste openbaring (die besondere) oor God-Drieënig en sy skeppingswerk in die Woord gevind word. Betroubare, ware kennis i.v.m. God (deur geloof in Hom) en van sy skeppingswerk (deur bestudering daarvan) is hierby inbegrepe. Geloof en ons elkedagse werklikheid, staan in direkte verband met/verhouding tot mekaar.
God's werke in die skepping (algemene openbaring) moet deur die onderwys en wetenskap na vore gebring word, onder die Lig en Waarheid van die Woord. Insigself is die skepping dus ook ʼn openbaring, waarvan Jesus Christus as Middelaar aangedui word (Kol. 1:16).
Onderwys en wetenskap kan gevolglik nie van geloof geskei word, asof daar geen verband is nie. Wanneer op Christelike onderwys en wetenskap aangedring word, is dit uit erkenning dat Jesus Christus Heer van ons lewens en ook van die skepping is. Word hierdie Waarheid ontken / genegeer, word onderwys en wetenskap buite die sfeer van die geloof gestel, asof die werklikheid self outonoom sou wees, wat op ʼn ontkenning (verloëning) van voormelde waarheid neerkom. Waar kennis/wetenskap dusdanig verhef word, word sekulêre (afvallige) geestesstrominge bepalend vir die wyse waarop die werklikheid beoordeel word. Die post-modernisme, wat elkeen sy eie waarheid veroorloof, dien as voorbeeld. Praktiese gevolge is dat afvallige wetenskap die geloof begin verplaas (soos in sekere kerke reeds gebeur), wat die samelewing weer tot sekularisering laat terugsak.
Konsekwent Christelike onderwys en wetenskap erken en eerbiedig die goddelike 'outeurskap', sover dit die skeppingswerk aangaan. Die Christen-onderwyser en -wetenskaplike verstaan hiervolgens dat deur kennis-inkleding (b.w.v. kurrikulering en vakinhoude) God verheerlik moet word (Rom. 11:36).
VCHO wil deur gehoorsame roepingsvervulling -
● Christelik(e)-kultuureie onderwys en - wetenskap op elke denkbare wyse bevorder;
● ouers en onderwysers van die noodsaak aan Christelike onderwys oortuig;
● verseker dat jongmense en studente Christelike onderwys en wetenskap ondergaan;
● skole/universiteite oor die belang van Christelike onderwys/wetenskap voorlig;
● meewerk dat daar ook vir die Christen-Afrikaner ʼn toekoms in hierdie land mag wees;
● en instrumenteel wees in die daarstelling van ʼn Christelike samelewing.
VCHO-missie:
Om deur die bevordering van Christelike onderwys, beginnende by ons eie volk, persone en instellings te oorreed om op elke lewensterrein tot eer van God te lewe en te werk (Hand. 1:8).
Van Schalkwykstraat 21
Universitas | Bloemfontein
051 525 2341
076 817 6269
hugo@vcho.co.za
www.vcho.co.za
Universitas | Bloemfontein
051 525 2341
076 817 6269
hugo@vcho.co.za
www.vcho.co.za
Skole Ondersteuningsentrum
Die toekoms van christelike Afrikaanse onderwys
Afrikaanse openbare skole bied onderwys van wêreldgehalte, ten spyte van al meer inmenging en al minder befondsing vanaf die staat. Die waarde van roepingsgedrewe onderwysers, 'n gesonde leerkultuur en moedertaalonderrig is duidelik sigbaar in die goeie akademiese resultate van Afrikaanse skole.
Volgens 'n verslag deur die Skoleondersteuning-sentrum (SOS) het 86% van Afrikaanse skole se matrieks die 2017-matriekeksamen geslaag – 11% meer as die nasionale slaagsyfer. Verder behaal Afrikaanse skole bykans drie keer meer onderskeidings as hul Engelse eweknieë in belangrike vakke soos Wiskunde.
Christelike Afrikaanse onderwys ervaar egter toenemende politieke druk en onverdraag-saamheid teenoor godsdiens in skole.In Julie 2017 het die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) die hof gevra het om die beoefening van 71 godsdienspraktyke in skole ongrondwetlik te verklaar. Ogod se aansoek is grotendeels, met koste, van die hand gewys, maar sedertdien is skole lugtig om hul Christelike karakter uit te leef. Die staat sal waarskynlik swaar steun op hierdie uitspraak indien die Skolewet hersien word om provinsiale departemente die mag te gee oor skole se taal -en toelatingsbeleide.
Voorgestelde wysigings aan die Skolewet kan daartoe lei dat skole se taal -en toelatingsbeleid voortaan deur provinsiale onderwysdepartemente goedgekeur moet word. Dit beteken dat Afrikaanse openbare skole nadelig geraak kan word, sou die wet hersien word. Beplande wysigings aan toelatingsregulasies in Gauteng kan boonop beteken dat Afrikaanse skole verplig sal wees om leerders in Engels te onderrig, indien hierdie leerlinge naby aan die skool woon. Tydens 'n openbare vergadering in Augustus 2018 het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys gesê; “Ek waarsku julle, as julle dink Montana is net vir Afrikaners en nie vir ons almal nie, gaan julle die prys hiervoor betaal”.
Verskeie Afrikaanse skole landswyd is reeds gedwing om Engelse leerders in te neem. Die realiteit is ongelukkig dat parallelmedium skole dikwels na Engels enkelmedium oorskakel, omdat hulle nie genoeg finansiële ondersteuning en hulpbronne vanaf die staat ontvang om hierdie model vol te hou nie. Die staat wil dus meer beheer hê oor skole, maar bied minder ondersteuning.
Die goeie nuus is egter dat dit nog lank nie klaarpraat is vir Afrikaanse onderwys nie. Verskeie instansies, soos die SOS, beywer hom vir die voortbestaan van gehalte christelike Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika. Die SOS ondersteun Afrikaanse onderwysers en skole met onderwyshulpmiddels en voortgesette opleiding. Ons help skole om terug te baklei teen verdoemende beleide wat christelike Afrikaanse onderwys bedreig, maar terselfdertyd beywer die SOS ons vir ontwikkeling van bekostigbare, onafhanklike skole waar gehalte Afrikaanse onderrig volhoubaar kan voortbestaan.
Die toekoms van gehalte Afrikaanse, christelike onderwys is dus positief, ten spyte van interne en eksterne bedreigings. Dit is egter nodig dat die Afrikaanse gemeenskap self hand aan die ploeg te slaan ten einde moedertaal onderrig met 'n christelike basis volhoubaar te verseker.
012 612 0234
admin@skole.co.za
Von Willichlaan 284,
Die Hoewes, Centurion
www.skole.co.za
admin@skole.co.za
Von Willichlaan 284,
Die Hoewes, Centurion
www.skole.co.za
BCVO
Christelike Afrikaanse onderwys bemagtig leerlinge!
Christelike Afrikaanse onderwys is in ʼn krisis!
Vir CVO Skole is Christelike moedertaalonderrig ononderhandelbaar.
Taal is nie net ʼn kommunikasiemiddel nie, maar verteenwoordig 'n rykdom aan kultuurgoedere en is draer van identiteit en waardes. Taal fasiliteer ons intellektuele en kulturele interaksies met ander mense.
Volgens Theo du Plessis, direkteur van die Eenheid vir Taalfasilitering en –bemagtiging, het kinders moedertaal nodig om kognitiewe ontwikkeling te verseker. ʼn Te vroeë oorskakeling na ʼn ander onderrigmedium, kan katastrofiese gevolge vir die kognitiewe ontwikkeling van kinders hê. Hulle kan uiteindelik intellektueel en akademies gesproke nie kers vashou by kinders wat moedertaalgebaseerde onderwys kry nie.
As die taal wat jy tuis hoor ooreenstem met die een waarin jy woorde leer lees en skryf, dra dit beslis tot beter prestasie by. As die taal wat jy hoor met die klanke wat jy op papier sien, ooreenstem, gaan jy vinniger leer. Moedertaalonderrig is een van die redes hoekom Afrikaanse skole se leerlinge steeds volhoubaar presteer.
Dr. Viatcheslav Wlassoff, wetenskaplike en mediese konsultant, het bewys dat die plek in die brein waar ʼn kind moedertaal aanleer, verskil van waar ander tale aangeleer word. Alison Mackey, professor in linguistiek, het deur middel van MRI-skanderings bevestig dat die gebruik van moedertaal en ander tale op verskillende plekke in die brein plaasvind.
Die sentrum van die brein waar moedertaal aangeleer word, verwerk dinge vinniger as die deel van die brein waar ander tale verwerk word. Taalverwerwing en die gebruik van moedertaal vind onbewustelik plaas, dus sonder om te dink. Die aanleer van ʼn tweede taal word bewustelik gedoen, daarom moet mens dink as jy in ʼn ander taal kommunikeer.
Flip Buys, van Solidariteit, sê dat ons leerlinge moet toerus vir hulle roeping en nie net oplei vir beroepe nie. Kwalifikasie gee werk, maar roeping gee ʼn loopbaan, dus ʼn toekoms. Die roepingsgedrewenheid van ons protestantse erfenis moet beklemtoon word. Deur Christelike beginsels te beklemtoon, skep ons ʼn visie en hoop vir die toekoms.
Onderwysers speel ʼn sleutelrol. As die onderwyser, nie die regte waardes oordra nie, word dit nie in die kind gevestig nie. Die onderwyser moet voorleef, nie net voorpraat nie. ʼn Kind spandeer baie tyd by die skool.
CVO skole volg ʼn verrykte kennisgedrewe kurrikulum en strewe na uitnemende onderrig. Kritiese en ondersoekende denke word aangemoedig om optimale ontwikkeling te verseker. Matrieks skryf die IEB matriek-eindeksamen - 'n wettige matrieksertifikaat wat tersiêre instansies erken en aanvaar.
Christelike Afrikaanse kinders kan onbeskaamd dink, droom en werk aan 'n hoopvolle toekoms. Trots wees op wie hulle is, waar hulle vandaan kom en hulle roeping uitleef. CVO is nie net 'n naam nie, dit is 'n leefwyse! Sluit gerus by ons aan om u kind hierin te laat deel.
BCVO ter wille van ons kinders, tot eer van God!
Gert Potgieterstraat 557
Garsfontein | Pretoria(ingang Serenestraat 378)
012 361 5793
bcvo@bcvo.co.za
www.bcvo.co.za
Teken in op:
Plasings (Atom)
-
Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan wo...
-
Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee van aardskuddende be...
-
Die toekoms van christelike Afrikaanse onderwys Afrikaanse openbare skole bied onderwys van wêreldgehalte, ten spyte van al meer inmengin...