Terwyl Minister van Basiese Onderwys Angie
Motshekga groot gewag gemaak het van die “hoër” Matriekslaagsyfer van 78,2% vir
staatskole vir 2018, wys onderwyskommentators daarop dat slegs 35% van die
1 141 731 leerlinge wat in 2007 met graad 1 begin het, in 2018 Matriek
geslaag het. Dit meer as halveer die werklike Matriekslaagsyfer.
Aan die een kant beteken dit dat meer as
700 000 kinders nie by Matriek uitgekom het nie en dus waarskynlik nie
geskool is vir die arbeidsmark en vir ʼn loopbaan van enige betekenis nie. In
effek beteken dit dat hierdie getal jaarliks bygevoeg word tot die massa
werkloses in SA en tot die gevalle wat hulle tot SASSA moet wend vir oorlewing
– inderdaad ʼn maatskaplike tragedie.
Aan die ander kant moet gesoek word na wat is
die oorsake vir hierdie hoë uitvalsyfer? Weereens wys onderwyskundiges daarop
dat die oorgrote meerderheid swart
leerlinge in die land deur die
onderwysowerheid gedwing word om hul skoolonderrig in Engels te doen, m.a.w. ʼn
tweede taal en nie hul moedertaal nie, wat waarskynlik van die inheemse tale
is. Dit beteken dat gedwonge Engels en geen moedertaalonderrig die groot rede
is vir die hoë uitvalsyfer.
ʼn Vraag nou is hoe beïnvloed hierdie toedrag
van sake Christelike Afrikaanse Onderwys in die land? Wat kan en gaan gedoen
word om te verseker dat Afrikaanse kinders en in besonder Afrikanerkinders hul
skool onderrig in hul moedertaal Afrikaans ontvang en boonop binne hul
tradisionele Christelike kultuur?
Wat sê lesers op hierdie vrae en ander relevante
kwessies wat in hierdie blog geopper word?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking