Onderwys in die branding

Dit staan soos 'n paal bo water dat onderwys in SA vandag een van die aspekte is wat in 'n voortbestaanskrisis verkeer. Daar word al...

Vrydag 18 Januarie 2019

Regering meer militant op skoolterreine


ʼn Onrusbarende verskynsel wat sedert verlede jaar by die hoërskool Overvaal by Vereniging kop uit steek, is die militantheid van betogers by en op die terreine van Afrikaanse skole – militantheid nie net van betogers nie, maar wat ook deur Onderwysdepartemente uitgeoefen word en deur die Polisie toegelaat word. Pas het militante betogings by die Laerskool Schweizer-Reneke en Hoërskool Stilfontein voorgekom.
Te Schweizer-Reneke het die Noordwes LUR vir Onderwys Sello Lehari blatant in die skoolbestuur op die terrein ingemeng  en ʼn onderwyseres “afgedank” ondanks die feit dat sy deur die beheerraad aangestel is. Net ingryping deur die vakbond Solidariteit met ʼn hofaansoek in ʼn geval wat sterk rasgedrewe is teen die skool en die onderwyseres, het voorkom dat Lehari sy voorneme uitvoer om nog twee onderwysers “af te dank”.
By Laerskool Schweizer-Reneke het die Polisie die afstandsbeheer van die skool vir toegang gekonfiskeer en terselfdertyd toegelaat dat betogers die skoolterrein betree en geboue beskadig. Te Stilfontein het betogers ook fisiese skade aan die skool aangerig oor beweerde rassisme teen swart leerlinge.
Hierdie militantheid plaas ook ʼn groot vraagteken oor volhoubare Christelike Afrikaanse onderwys.

Donderdag 17 Januarie 2019

Plan om geskiedenis te transformeer


Na berig word, beplan die ANC-regering, in besonder die nasionale Dept. van Basiese Onderwys, om die leerplan vir die skoolvak geskiedenis radikaal te transformeer en dit boonop verpligtend te maak vanaf Gr. 10 tot Gr. 12. Vir hierdie doel is ʼn taakspan o.l.v. prof. Sifiso Ndlovu aangestel en het dit reeds ʼn voorlopige verslag met aanbevelings aan die minister oorhandig.
Die dryf is om geskiedenis te “dekolonialiseer” en dit meer “Afrosentries” te maak. Vir die doel daarvan word alle geskiedenis handboeke vir laer- en hoërskole herskryf om “die leuens, onwaarhede, verdraaiings en wanvoorstellings” te vervang met nuwe inhoud. Met die oog hierop maak die taakspan gedetailleerde voorstelle van watter inhoud in geskiedenishandboeke vir elke graad vanaf Gr. 4 tot Gr. 12 vervat moet word.
Dit kom in effek neer op verheerliking van die “struggle”–geskiedenis en meedoënlose veroordeling van “kolonialisme” en “apartheid”, m.a.w. alles van die blanke en in besonder die Afrikaner.
Derhalwe kom hierdie nuwe veldtog daarop neer dat die Afrikaanse kind en in besonder die Afrikanerkind op skool totaal vervreemd kan word van sy ware geskiedenis en tradisionele kultuurwortels. Gevolglik is die kernvraag, wat gaan uit die oogpunt van Christelike Afrikaanse onderwys gedoen word om hierdie uiters gevaarlike verwikkeling effektief teen te staan en te vermy?

Matriekuitslae van Afrikaanse skole


Om die debat verder te voer, die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) het op ʼn mediakonferensie daarop gewys dat die Matriekslaagsyfer vir Afrikaanse skole wat betref 2018, gestaan het op 86,9% vergeleke met die nasionale slaagsyfer van 78,2%. SOS wys daarop dat indien Afrikaanse skole se uitslae nie by die Matriekuitslae vir 2018 ingereken word nie, sou die Dept. van Basiese Onderwys met ʼn veel laer slaagsyfer, minder onderskeidings in wiskunde en ʼn kleiner persentasie universiteitsvrystellings tevrede moes wees. Sou Afrikaanse skole uit die vergelyking gelaat word, sou die nasionale slaagsyfer 76,7% gewees het.
Voorts het SOS kon vasstel dat die slaagsyfer van enkel medium Afrikaanse skole sowat 90% was. Daarby het sowat die helfte van Afrikaanse Matrikulante geslaag met universiteitstoelating, teenoor minder as ʼn derde van die res van die land. Sowat 7,5% van leerlinge in Afrikaanse skole het onderskeidings in wiskunde behaal, teenoor 1,9% van die res van die Matrieks.
Volgens SOS wys hierdie onomstootlike syfers dat moedertaal onontbeerlik is vir uitnemende onderrig en kultuuroordrag.
Op hierdie blog word graag kommentaar op hierdie scenario verneem.